Van regs na links, prins Claus, dr. A. Klug en sy vrou
Klug is op 11 Augustus1926 in Želva, Litaue, gebore. Hy is die seun van die Joodse veeboer Lazar en Bella Silin Klug. Op tweejarige ouderdom verhuis hy met sy ouers na Suid-Afrika. Hy gaan in Durban skool en studeer daarna wetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand (B.Sc, 1941) en kristallografie aan die Universiteit van Kaapstad (meerstersgraad, 1947).
Vervolgens verhuis hy na Engeland waar hy sy doktorsgraad in 1953 aan Trinity-kollege in Cambridge verwerf. Aan die einde van 1953 gaan hy na die Birkbeck-kollege van die Universiteit van Londen, waar hy en Rosalind Franklin in John Desmond Bernal se laboratorium werk. Van 1958 tot 1962 was hy by die Virus Structure Research Group betrokke.
In 1962 begin hy werk by die pasopgerigte MRC-laboratorium vir Molekulêre Biologie in Cambridge. In die daaropvolgende jare gebruik Klug metodes van X-straaldiffraksie, mikroskopie en strukturele modellering vir die ontwikkeling van kristallografiese elektronmikroskopie. Met behulp van 'n elektronmikroskoop en 'n rekenaar het hy daarin geslaag om drie-dimensionele beelde van makromolekulêre komplekse te bou. Hiermee word 'n reeks twee-dimensionele beelde van kristalle vanuit verskillende hoeke geneem en tot 'n drie-dimensionele beeld gekombineer. Sy tegniek vorm die basis van rekenaartomografie, met die CT-skandeerder as praktiese toepassing daarvan.
Met sy metode kon hy die struktuur van chromatien, DNS en proteïene soos wat in die chromosoom voorkom, sien. Hy het ook tRNS (Transfer RNA) en verskeie virusse vergroot.
Van 1986 tot 1996 was hy die direkteur van die Laboratorium van Molekulêre Biologie.
Erkenning
Klug het talle pryse vir sy werk ontvang, onder andere die Heinekenprys vir Geneeskunde (1979), die Louisa Gross Horwitz-prys (1981), die Nobelprys vir Chemie (1982) en die Copley-medalje (1985). In 1988 is hy deur koningin Elizabeth tot ridder geslaan en in 1995 kry hy die Britse Order of Merit. In 2005 is die Suid-Afrikaanse Orde van Mapungubwe (goud) vir buitengewone verdienste in die mediese wetenskap aan hom toegeken.[3]
Verwysings
↑(en) Shafrir, E. (1994). "Aaron Klug--a pioneer of crystallographic electron microscopy". Israel journal of medical sciences. 30 (9): 734. PMID8088991.